Dis ‘n lieflike pad tussen Fraserburg en Leeu Gamka, en indien stilte en klip en berge en eindelose ruimte jou ding is, is Muggefontein die ideale plek. Vir my was dit. Loop sodra jy stilgehou het veld in. Jy sal ‘n plaaswerker in die voetpad sien aankom. Vra hom waar jy selfoonsien kan kry. Hy sal jou sê dit hang af watter een jy soek. MTN? Hy sal jou wys na ‘n koppie aan die ander kant. Loop daar op, sal hy sê. Daar staan ‘n bruin JoJo-tenk; langs hom kry jy die sein. Maar op pad soontoe moet, jy by die kraalmuur gaan staan en kyk hoe daardie klip gepak is. Kyk lank, want so iets moet jy lank bekyk. O ja, daar is ‘n klein olyfboord, en in die kombuis is bottels olyfolie wat jy kan koop. Muggefontein-olyfolie.
